Contributors

Tuesday, 21 June 2016

Nostalgies...

"Kom sit styf  hier teen my jou kop agteroor,
  Hoor jy hoe sag val die rëen?
  Die dag is verby, nog 'n week, nog 'n maand,
  Waar gaan die tyd met ons heen?"

Wanneer ek die woord Nostalgie hoor, weerklink Laurika se stem in my agterkop. Dis die kiekies, die herinneringe, die tyd toe alles nog so eenvoudig was. Baie dink aan hul skool dae en ander onthou die presiese reuk van hul ouma, die sagte reuk van poeier en haarsproei.

Elkeen het hul eie nostalgiese verbinding met iets uit hul kinderdae, vir my was dit die Sondae 'roadtrips' deur die laeveld. Ek het al meer kere as wat ek kan onthou op die agterste sitplek tussen my ouer broer en suster gesit en die wêreld bekyk. Grotte en watervalle, verlate dorpies en die wat steeds lyk soos toe Oupa nog daar gebly het, die Longtompas wat my so karsiek gemaak het, maar die lekkerste was die padkos wat Ma al die vorige dag verpak en in die yskas gebêre het. Ek kan nooit na 'n koue frikkadel of hoenderboutjie kyk sonder om te glimlag nie.

Die herinneringe was die beste; waar ons deur Lydenburg ry en gou vir Ouma gaan hallo sê, die afdraai na haar huis was vir my die interessantste, daardie huis met al die beelde; 'n man wat 'n kobra vashou en volstruis van sement, alhoewel die standbeelde nie meer daar staan nie, kan ek steeds onthou waar presies hulle was.

En dan?

Dan neem my gedagtes my na twintig jaar van nou en ek wonder wat vir die kinders nostalgies gaan wees...

Gaan dit hul oupa se snor of hul ouma se skaapboud wees? Die hoenders in die agterplaas of hul Oom wat altyd aan die slaap raak op die bank? Meskien die familiekot wat steeds in die spaarkamer staan of dalk die poppe wat hul ouers mee gespeel het...?

Hopelik onthou hulle die dae van speel en vuil word, plekke sien en oorskiet hoender eet,
Hopelik vergaan hulle nie in 'n virtuele wêreld waar daar geen sintuig werklik tersprake is nie.

Gaan luister Laurika en Nat "The King" Cole en onthou die ou tjor op die kronkel pad tussen hier en nêrens terwyl jy nostalgies kyk na die kiekies van Oupa en Ouma wat met die kleinkinders speel op die strand, want iewers gaan ons vergeet hoe geliefd en gelukkig ons was, daarom moet ons onthou om te onthou en vergeet om te vergeet.

Tot volgende week.

Chani



Tuesday, 31 May 2016

“Alles was net ‘n droom”

Jy
het gedroom
terwyl jy wawyd wakker lê.
In ‘n wêreld meer kompleks as diè,
kon mens die realiteit in die droom sien nog voor dit werklik opgemerk word.
Mens sien nie altyd die pyn voor dit werklik daar is nie,
maak nie saak hoe lank en ver jy jouself probeer beskerm nie,
jy sal nooit werklik weet wanneer iemand jou in die rug sal steek nie.
Ons vind onsself meer kere as een,
in die koue kloue van die donkerte…
ja daardie donkerte wat jou hart verstrengel en jou kop verdor.
Die donkerte wat jou maniese gedagtes na onwerklike waarhede verander
sonder dat jy dit weet.
Die krag van ‘n duisende manne
kan jou nie red uit die greep wat daardie donkerte om jou het nie.
En dan op ‘n dag verander alles,
jy besef jou gevoelings beteken eintlik niks vir ander anders as jyself en jou gedagtes nie.
Jy mors jou asem om jouself te red uit die pennarie waarin jy jouself bevind
nadat die wêreld wat jy gedink het joune was eintlik iemand anders s’n blyk te wees.
En tog probeer jy steeds oorleef al weet jy dis nutteloos.
Al besef jy oorlewing
is slegs ‘n tydkoop aandeel wat jou duur te staan gaan kom op die ou end.
Nee, jy het nie besef dis wat gaan gebeur nie,
want tog in jou hart sien jy altyd net die goed in ander totdat hulle jou verkeerd bewys,
is die sê-ding nie, “Innocent until proven guilty” nie?
O jy, jou dom sot,
het gedink ander is so opreg en verstandig soos jy en toe jy besef dit is nie so nie,
krul jou liggaam van die pyn wat die donkerte aan jou hart veroorsaak.
Maar tog hoop jy…
Jy hoop vir iemand wat jou sal verstaan deur die middernag trane en die valse glimlag,
jy hoop iemand sien die werklikheid van jou droom,
voordat jy uitasem wakker skrik en besef dis nie net ‘n nagmerrie nie.
En tussen die mantra “Alles was net ‘n droom”
en die besef dat jou drome waar geword het,
neem jy een laaste asem
voordat jou oë
‘n laaste maal
sluit.

Wednesday, 25 May 2016

My vriend

Die geraas van die haardroër is verbasend kalmerend terwyl ek na die selfoon op die die bedkassie staar, my hare is lankal droog maar my brein registreer nie die feit nie. Die boodskap lê toegesluit onder wagwoorde en tussen apps waar ek dit maklik kan vind. Dis asof die woorde om my swem, my kamer verander in ‘n tornado van woorde wat lui “Ek gaan een van die dae Botswana toe!”

Dis nie die afstand nie, want daarvan het ons reeds teveel, ook nie die feit dat ek weet ek gaan minder van jou hoor as wat ek reeds doen nie, nee dis ons gesprek van nou die aand wat in my gedagtes maal.

“Ons albei het kanse laat verby gaan.”

“Jy’t my nie vertrou nie.”

“Ekt niemand behalwe vir jou vertrou nie.”

Stilte.

Daar is steeds daardie stilte, daardie onaangeraakte spasie tussen vriende en meer. 

Jy het die gesprek op sy geskuif, jy doen dit elke keer wat ek te naby aan die waarheid kom. Weereens het ek jou die kans gegee, maar jy het my geignoreer en gepraat oor musiek. Musiek. Amper tien jaar van vriendskap en ons praat steeds oor musiek wanneer dit te moeilik raak om eerlik te wees.

Kan jy onthou hoe ons destyd gelag en gegrap het oor mense wat so erenstig is en vyf jaar later is ons daardie mense. Ek onthou jou as daardie mens, met jou lang hare, t-shirts, denims en tekkies, ek onthou jou nog as die man wat my probeer soen het, die enigste een wie ek nie kon soen nie.

Nou is jou hare kort en jou verantwoordelikheid groot. Jy soek nog na daardie liefde, ek hoor dit in jou stem as jy ‘n nuwe meisie het, en altyd stel hulle jou teleur. ek wens soms ek het geweet hoe om jou hart te beskerm teen die wolwe.

Aan die eenkant weet ek dit gaan nie werk nie, die afstand is lank, en as ons mekaar nou reeds elke vyf jaar sien hoe gaan dit nie wees as ons wel dit probeer nie.

Aan die anderkant, as daar iemand is wat dit kan maak werk, is dit ons.

En ek glo daarvoor is ons albei bang want Botswana is net ‘n metafoor vir weg, asof my hart nie alreeds by jou rus in ‘n ander provinsie nie. Jyt belowe, maar jy belowe altyd, en altyd vergeet jy van jou beloftes. Ek glo jou nie meer as dit kom by hartsake nie, want tog weet ons jy sal nie my hart kan bewaar nie.

Daarom skryf ek hierdie brief want tog weet ek teen die tyd wat jy dit lees is jy weer verlief, op ‘n ander wat jou hart ook breek. Dis nie jy nie en dis ook nie ek nie, dis ons albei, wat te bang is vir die realiteit om werklik realiteit te word. Ons vrees die belaglike, ons vrees mekaar.

Dis hartseer, maar ek sê vir die eerste keer sedert ons mekaar ken, totsiens. Totsiens beteken ek gaan jou weer sien so ek sê eerder vaarwel, mag jou hart sy eie sake bewaar en my altyd onthou.

Vaarwel.

Liefde,


Jou vriendin.

Tuesday, 3 May 2016

Wat beteken vryheid vir jou?

Dit begin by een vraag, een eentonige vraag wat almal deesdae vir die "vrygeborenes" vra: 
Wat beteken vryheid vir jou?

Ek luister hoe studente van tukkies, pukke, maties en kovsies hul antwoorde gee... 
  • Rasse gelykenheid
  • Vrye toegang tot onderwys
Is dit al waaraan almal kan dink? Die eentonigheid van julle tonnel visie maak my skaam om ook as een van daardie "vrygeborenes" getel te word.

Jy, student wie se ouers kon bekostig om jou Universiteit toe te stuur. Jy wat dink jy staan as ere lid van die jeug en as student jou lewe geniet tussen klas mis en take away's eet, jy is oningelig oor hoe die "vrygeborenes" werklik leef.

Rasse gelykenheid is belangrik, ons almal moet mekaar respekteer, mekaar die voordeel van die twyfel gee en dit is immers belangrik vir 'n groeiende toekomstige Suid-Afrika.

Ja onderwys is belangrik, maar wie gee jou, die student, die reg om te sê jou onderwys is onregverdig. 

Ek is volgens die algemene sosiale siening 'n "vrygeborene". Ek is arm, in 'n arm huishouding gebore, as arm kind grootgemaak; daar was nooit geld vir smeerkaas of polony nie. In my matriek jaar het ek soos almal gewonder oor my toekoms maar ek kon nie universiteite bekostig nie, so ek het op daardie liewe dag wanneer die universiteite by die skool kom uitstal, amper skool geslip. Ek het geluister na skoolmaats wat madeliefie en katryn (hoe sal ek tog weet) koshuise sou bywoon en opgewonde was omdat hulle 'n studente lewe sou hê.

My pa, die dapper man wat hy is, het teenoor die boekhouer in my tuisdorp sy hart uitgestort en daardie boekhouer het ingestem om my indiensopleiding te gee.

In teenstand met jou studentelewe, het ek 'n werk my gat af lewe, in 'n klein dorpie in die middel van nêrens waar ek nie petrolgeld het om klasse by te woon of genoeg lugtyd het om podcasts te kry nie. My studentelewe bestaan uit die 8am tot 5pm dagskof en die 6pm tot 2am nagskof want anders as jy wat kan swot wanneer jy wil moet ek werk om my studies te kan bekostig.

Dit my vriend is die punt van die ysberg wat jy sien...

Wat beteken vryheid vir my?

  • Om 'n munisipaliteit te hê wat eintlik hul elektrisiteit rekening aan Eskom betaal sodat ons nie sonder krag in die middel van die nag sit nie. 
  • Skoon drinkbare water wat nie met mens afval besmet is en siektes oordra nie. 
  • 'n Riool sisteem wat werk. 
  • 'n Pad waar daar nie een enkele slaggat is nie. 
  • Kruideniersware wat bekostigbaar is, want 'n two minute noodle dieet raak bietjie eentonig.
  • 'n Wisselkoers wat dit selfs vir die wat sukkel 'n kans sal gee om die wêreld te sien.
  • 'n President wat eintlik omgee.
  • 'n Land wat niemand kwalik neem vir die foute van die verlede nie.
  • 'n Gesprek waar ek nie verkwalik word vir my voorvaders se foute nie.
  • 'n Veilige omgewing waar ek en my familie gesellig kan wees sonder om gedreig te word.
  • Die mentaliteit van logiese landsburgers wat die verlede laat, waar dit is, ja alles het reeds gebeur nou is die tyd om voorentoe te beweeg.
  • Vryheid beteken om fisies vry te wees van alles wat die lewe vir ons ondraaglik maak, landsburgers inkluis.
Jou vryheid is belangrik maar myne, myne is wat vryheid werklik is... 

Laat staan jou jeugdige opstand en jou oningeligte uitlatings, wag totdat jy sit waar baie van die jeug sit - op straat - en dan laat weet jy my wat vryheid werklik is.

Ons almal het keuses wat ons moet maak, maak jou keuse een waar jy besef daar is 'n groter prentjie daarbuite - 'n struikelende ekonomie waar buitelandse beleggers ontrek het, omdat jou president nie die lig kan sien nie. 'n Petrolprys wat hoog is alhoewel jou land 'n uitvoerder is - Sasolburg enigiemand?

Ek vra jou met trane in my oë, maak assbelief jou oë oop en sien watter toekoms ons voor ons het, en begin dit verander!!

Tot volgende week.

Chani 

Thursday, 28 April 2016

Het hulle 'n gewete?

Geskok staar ek na die rekenaar skerm - eks getag in 'n foto deur iemand wat saam met my op laerskool was...

Ek staar na die vroeteier prentjie en frons effens, het ek ooit vroteier gespeel op laerskool?

Vinnig probeer ek terug dink aan daardie jong dae wat amper 15jaar terug was, maar ek slaan 'n blank. Dis nie dat dit so lank terug was nie maar dat dit net te aaklig is om te onthou...

Ja ek ken die storie meeste mense is geboelie op skool - dis die oudste storie in die boek, niks nuuts nie, maar tog kry ek 'n koue rilling wat stadig oor my ruggraat kruip as ek dit probeer onthou. Dit was name, leuens, grappe, slegsê en 'n spottery, maar moet my asseblief nie jammer kry nie dit is immers amper tien jaar terug.

Ek wonder net of daardie boelies dit kan onthou soos ek dit onthou? Wonder hulle ooit wat van diè geword het wat hulle geboelie het of waarheen daardie kinders gegaan het nadat hulle uit die skool is? Het hulle 'n gewete?

Want tog was dit nie die onderwysers se skuld nie, want glo my ek was te skaam om selfs vir my ma te vertel, wat nog van 'n onderwyser in wie se gesig ek elke dag moes vaskyk? Ek blameer hulle glad nie, ook nie die hoof of die beheerliggaam nie ek blameer myself, want as ek slegs een keer opgestaan het vir myself, was die uitkoms heelwat anders.

Maar tog weet ek dit was nie my skuld nie, ek was nie grootgemaak om te baklei nie, my ouers is liefdevol en verstandig en hul eie mense so die kans dat hulle ook teen 'n magdom ryker ouers en beheerliggaamslede sou baklei was skaars, want hoe verander jy so iets, jou kind word dan net 'n verdere teiken.

Nee, ek het gehuil elke middag as ek van die skool afgekom het, ek het by die huis uitgehak omdat ek by die skool ongelukkig was en dit was niemand anders se skuld as my eie nie, so jonk soos ek was moes ek tog geweet het wat is reg en wat is verkeerd.

Ek het in standerd 6 na 'n ander skool gegaan, myself ge-reinvent en heeltemal 'n ander mens geword totdat ek 'n paar jaar later by die redenaarskompitisie een van my vorige onderwyserresse raakgeloop het en sy die balkie gesien het op my bors wat lui "Onderhoofmeisie van Akademie".

In my gedagtes was ek 'n hero, "sien ek het julle gewys, ek het eindelike iets geword wat julle nie verwag het nie!" ja ek was braaf en ek het hopeloos teveel selfvertroue gehad in matriek juis as gevolg van my gedaante verwisselling in standerd 6.

En haar reaksie op my sukses, "Sjoe julle skool se standaard moet seker laag wees as jy onderhoofmeisie van akademie kan wees."

Die wind was letterlik uit my seile.

Ek staan verstom voor haar: My ouderwetse respek wat my gekeer het om haar iets te noem wat ek later sou berou het, het sterk baklei teen, die rebel wat 'n miljoen woorde op een slag kon uiter as ek net my verdomde mond kon oopmaak.

Ironies dat ek by 'n redenaarskompetisie stom geslaan was.

En nou vandag wanneer ek terug dink aan daardie sewe jaar wat wegkruip in my geheue, is ek bly dat ek dit nie kan onthou nie, want in my onderbewussein weet ek dat dit wat daardie onderwyserres vir my gesê het nie die ergste was nie.

Tot volgende week!

Chani

Friday, 22 April 2016

TV Kêrel Departement

Mag ek net begin deur te sê, alles gebeur met 'n rede.

Ek kom op Facebook (moenie my baas sê nie) en sien iets soos, Armand Aucamp se blog en lees hoe hy rook opgegee het. Dadelik flits 'n donkerkop Tom Niemandt in my gedagtes waar ek soos 'n skoolkind met 'n crush heel opgewonde lees oor sy rook gewoontes, alhoewel ek nog nooit my lippe aan 'n sigarette gesit het nie.

En op die einde van sy ingrypende tirade staan daar "as jy nog nie my vorige stuk gelees het nie" ja ek het op die skakel gedruk en siedaar maak 'n nuwe bladsy oop met die woorde, "veral omdat daar seker nou ’n verwagting geskep is met Die Boekklub en Tom Niemandt se wyse en pikante woorde. Nota: Dit is Louis Pretorius (skrywer en vervaardiger van Die Boekklub) se superwyse en pikante woorde."
Ek bars uit van die lag en tik myself op die vingers, wie sou kon raai dat ek geval het vir 'n sekere boekklub karakter.

En dis hoekom ek sê alles gebeur met 'n doel, want ek wou nog altyd blog en hier is 'n man met 'n wye spektrum van aanhanger (ek merk op meeste vrouens... natuurlik!) en hy praat hoe ek praat... scary!

Maar ek het nie die blog begin om te praat oor ons gunsteling Armand Aucamp nie, nee ek wil eerder praat oor hoe ons verbeelding met ons weghol... of altans myne.

Ek sit op die bank in my etenstyd (ek woon in 'n klein dorpie so ek kan huis toe gaan tussen een en twee) en kyk Chicago Fire, ek leef myself so in dat ek met die karakters praat asof hulle my kan hoor. Dikwels doen ek dit met die stories wat ek kyk, want tog skep daardie arme karkater vertolk deur 'n Armand Aucamp of 'n Neels van Jaarsveld daardie verwagting dat dit tôg met my ook kan gebeur ... Wie weet?

Is ek alleen in die tv kêrel departement?
Is ek die enigste hopeless romantic wat oor is?

Ek dink ons word so weggevoer in die alleenheid van ons besige skedules dat ons soms vergeet daars steeds 'n lewe om te leef, alhoewel ek nie die tyd het daarvoor nie... Ek maak veral sulke foute, omdat ek nie alleen na iets wil gaan wanneer my vriende besig is nie.

En dan bevind die hopeless romantic haarself in 'n eensame skuitjie in die middel van die oseaan want niemand het my lief nie almal haat my...

Maar ek is te lui om self die motor wat agter op die bootjie is aan te skakel en weg te ry.

Want is dit nie makliker om te wag vir jou ridder op 'n witperd om jou te red nie?

'n Duur les wat ek al geleer het is, as jy nie jouself red nie, gaan jy verdrink in die magdom mense wat nie hul hande wil vuil maak nie. Maak eers op jouself staat voor jy van ander verwag om dieselfde te doen - JY is immers jou grootste AANHANGER!

Dit bly tog lekker om te hoop vir die ridder, soos die hopeless romatic wil hê, al het jy klaar jouself gered...

Met alle hoop op 'n tv kêrel romanse nog voor die einde van 2016.

Tot volgende week.

Chani