Contributors

Thursday, 28 April 2016

Het hulle 'n gewete?

Geskok staar ek na die rekenaar skerm - eks getag in 'n foto deur iemand wat saam met my op laerskool was...

Ek staar na die vroeteier prentjie en frons effens, het ek ooit vroteier gespeel op laerskool?

Vinnig probeer ek terug dink aan daardie jong dae wat amper 15jaar terug was, maar ek slaan 'n blank. Dis nie dat dit so lank terug was nie maar dat dit net te aaklig is om te onthou...

Ja ek ken die storie meeste mense is geboelie op skool - dis die oudste storie in die boek, niks nuuts nie, maar tog kry ek 'n koue rilling wat stadig oor my ruggraat kruip as ek dit probeer onthou. Dit was name, leuens, grappe, slegsê en 'n spottery, maar moet my asseblief nie jammer kry nie dit is immers amper tien jaar terug.

Ek wonder net of daardie boelies dit kan onthou soos ek dit onthou? Wonder hulle ooit wat van diè geword het wat hulle geboelie het of waarheen daardie kinders gegaan het nadat hulle uit die skool is? Het hulle 'n gewete?

Want tog was dit nie die onderwysers se skuld nie, want glo my ek was te skaam om selfs vir my ma te vertel, wat nog van 'n onderwyser in wie se gesig ek elke dag moes vaskyk? Ek blameer hulle glad nie, ook nie die hoof of die beheerliggaam nie ek blameer myself, want as ek slegs een keer opgestaan het vir myself, was die uitkoms heelwat anders.

Maar tog weet ek dit was nie my skuld nie, ek was nie grootgemaak om te baklei nie, my ouers is liefdevol en verstandig en hul eie mense so die kans dat hulle ook teen 'n magdom ryker ouers en beheerliggaamslede sou baklei was skaars, want hoe verander jy so iets, jou kind word dan net 'n verdere teiken.

Nee, ek het gehuil elke middag as ek van die skool afgekom het, ek het by die huis uitgehak omdat ek by die skool ongelukkig was en dit was niemand anders se skuld as my eie nie, so jonk soos ek was moes ek tog geweet het wat is reg en wat is verkeerd.

Ek het in standerd 6 na 'n ander skool gegaan, myself ge-reinvent en heeltemal 'n ander mens geword totdat ek 'n paar jaar later by die redenaarskompitisie een van my vorige onderwyserresse raakgeloop het en sy die balkie gesien het op my bors wat lui "Onderhoofmeisie van Akademie".

In my gedagtes was ek 'n hero, "sien ek het julle gewys, ek het eindelike iets geword wat julle nie verwag het nie!" ja ek was braaf en ek het hopeloos teveel selfvertroue gehad in matriek juis as gevolg van my gedaante verwisselling in standerd 6.

En haar reaksie op my sukses, "Sjoe julle skool se standaard moet seker laag wees as jy onderhoofmeisie van akademie kan wees."

Die wind was letterlik uit my seile.

Ek staan verstom voor haar: My ouderwetse respek wat my gekeer het om haar iets te noem wat ek later sou berou het, het sterk baklei teen, die rebel wat 'n miljoen woorde op een slag kon uiter as ek net my verdomde mond kon oopmaak.

Ironies dat ek by 'n redenaarskompetisie stom geslaan was.

En nou vandag wanneer ek terug dink aan daardie sewe jaar wat wegkruip in my geheue, is ek bly dat ek dit nie kan onthou nie, want in my onderbewussein weet ek dat dit wat daardie onderwyserres vir my gesê het nie die ergste was nie.

Tot volgende week!

Chani

No comments:

Post a Comment