My vriend
Die geraas van die haardroër is verbasend kalmerend terwyl
ek na die selfoon op die die bedkassie staar, my hare is lankal droog maar my
brein registreer nie die feit nie. Die boodskap lê toegesluit onder wagwoorde
en tussen apps waar ek dit maklik kan vind. Dis asof die woorde om my swem, my
kamer verander in ‘n tornado van woorde wat lui “Ek gaan een van die dae
Botswana toe!”
Dis nie die afstand nie, want daarvan het ons reeds teveel,
ook nie die feit dat ek weet ek gaan minder van jou hoor as wat ek reeds doen
nie, nee dis ons gesprek van nou die aand wat in my gedagtes maal.
“Ons albei het kanse laat verby gaan.”
“Jy’t my nie vertrou nie.”
“Ekt niemand behalwe vir jou vertrou nie.”
Stilte.
Daar is steeds daardie stilte, daardie onaangeraakte spasie
tussen vriende en meer.
Jy het die gesprek op sy geskuif, jy doen dit elke keer
wat ek te naby aan die waarheid kom. Weereens het ek jou die kans gegee, maar
jy het my geignoreer en gepraat oor musiek. Musiek. Amper tien jaar van
vriendskap en ons praat steeds oor musiek wanneer dit te moeilik raak om eerlik
te wees.
Kan jy onthou hoe ons destyd gelag en gegrap het oor mense
wat so erenstig is en vyf jaar later is ons daardie mense. Ek onthou jou as
daardie mens, met jou lang hare, t-shirts, denims en tekkies, ek onthou jou nog
as die man wat my probeer soen het, die enigste een wie ek nie kon soen nie.
Nou is jou hare kort en jou verantwoordelikheid groot. Jy
soek nog na daardie liefde, ek hoor dit in jou stem as jy ‘n nuwe meisie het,
en altyd stel hulle jou teleur. ek wens soms ek het geweet hoe om jou hart te
beskerm teen die wolwe.
Aan die eenkant weet ek dit gaan nie werk nie, die afstand
is lank, en as ons mekaar nou reeds elke vyf jaar sien hoe gaan dit nie wees as
ons wel dit probeer nie.
Aan die anderkant, as daar iemand is wat dit kan maak werk,
is dit ons.
En ek glo daarvoor is ons albei bang want Botswana is net ‘n
metafoor vir weg, asof my hart nie alreeds by jou rus in ‘n ander provinsie
nie. Jyt belowe, maar jy belowe altyd, en altyd vergeet jy van jou beloftes. Ek
glo jou nie meer as dit kom by hartsake nie, want tog weet ons jy sal nie my
hart kan bewaar nie.
Daarom skryf ek hierdie brief want tog weet ek teen die tyd
wat jy dit lees is jy weer verlief, op ‘n ander wat jou hart ook breek. Dis nie
jy nie en dis ook nie ek nie, dis ons albei, wat te bang is vir die realiteit om
werklik realiteit te word. Ons vrees die belaglike, ons vrees mekaar.
Dis hartseer, maar ek sê vir die eerste keer sedert ons
mekaar ken, totsiens. Totsiens beteken ek gaan jou weer sien so ek sê eerder
vaarwel, mag jou hart sy eie sake bewaar en my altyd onthou.
Vaarwel.
Liefde,
Jou vriendin.
No comments:
Post a Comment