"Kom sit styf hier teen my jou kop agteroor,
Hoor jy hoe sag val die rëen?
Die dag is verby, nog 'n week, nog 'n maand,
Waar gaan die tyd met ons heen?"
Wanneer ek die woord Nostalgie hoor, weerklink Laurika se stem in my agterkop. Dis die kiekies, die herinneringe, die tyd toe alles nog so eenvoudig was. Baie dink aan hul skool dae en ander onthou die presiese reuk van hul ouma, die sagte reuk van poeier en haarsproei.
Elkeen het hul eie nostalgiese verbinding met iets uit hul kinderdae, vir my was dit die Sondae 'roadtrips' deur die laeveld. Ek het al meer kere as wat ek kan onthou op die agterste sitplek tussen my ouer broer en suster gesit en die wêreld bekyk. Grotte en watervalle, verlate dorpies en die wat steeds lyk soos toe Oupa nog daar gebly het, die Longtompas wat my so karsiek gemaak het, maar die lekkerste was die padkos wat Ma al die vorige dag verpak en in die yskas gebêre het. Ek kan nooit na 'n koue frikkadel of hoenderboutjie kyk sonder om te glimlag nie.
Die herinneringe was die beste; waar ons deur Lydenburg ry en gou vir Ouma gaan hallo sê, die afdraai na haar huis was vir my die interessantste, daardie huis met al die beelde; 'n man wat 'n kobra vashou en volstruis van sement, alhoewel die standbeelde nie meer daar staan nie, kan ek steeds onthou waar presies hulle was.
En dan?
Dan neem my gedagtes my na twintig jaar van nou en ek wonder wat vir die kinders nostalgies gaan wees...
Gaan dit hul oupa se snor of hul ouma se skaapboud wees? Die hoenders in die agterplaas of hul Oom wat altyd aan die slaap raak op die bank? Meskien die familiekot wat steeds in die spaarkamer staan of dalk die poppe wat hul ouers mee gespeel het...?
Hopelik onthou hulle die dae van speel en vuil word, plekke sien en oorskiet hoender eet,
Hopelik vergaan hulle nie in 'n virtuele wêreld waar daar geen sintuig werklik tersprake is nie.
Gaan luister Laurika en Nat "The King" Cole en onthou die ou tjor op die kronkel pad tussen hier en nêrens terwyl jy nostalgies kyk na die kiekies van Oupa en Ouma wat met die kleinkinders speel op die strand, want iewers gaan ons vergeet hoe geliefd en gelukkig ons was, daarom moet ons onthou om te onthou en vergeet om te vergeet.
Tot volgende week.
Chani